Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) is tans in gesprekvoering met Johnson & Johnson, ná die Amerikaanse kos-en-medisyne-owerheid (FDA) se uitspraak op Donderdag, 5 Mei 2022, dat dit die gebruik van die Janssen (Johnson & Johnson) COVID-19-entstof tot slegs persone van 18 jaar en ouer beperk, alleenlik wanneer hulle nie toegang het tot een van die ander gemagtigde COVID-19-entstowwe nie, of spesifiek op hierdie entstof aandring.
Die FDA het dié besluit geneem aangesien mense wat met die entstof ingeënt is, ‘n groter risiko loop vir skaars bloedklonte weens die ontwikkelling van trombose met trombositopenie sindroom (TTS).
Nthabi Moloi, Sahpra-woordvoerder, het Woensdag by navraag aan AfriNuus bevestig dat dit in gesprekvoering is met Johnson & Johnson oor die newe-effekte na immunisering (AEFI’s)-rapporterings, en dat hulle binnekort ’n verklaring oor “die stappe vorentoe” sal uitreik.
Jy kan die FDA se verklaring hier lees.
AfriNuus sal die Sahpra-verklaring publiseer sodra dit uitgereik is.