Limpopo en Gauteng se basiese onderwysdepartemente weerspreek mekaar oor die swanger-leerderbeleid.
Deur Bernard Chiguvare (GroundUp)
Swanger leerders mag slegs skool bywoon as hulle deur ’n ouer vergesel word, volgens skoolbeleid by Tshiitwa Sekondêr in Ha-Mashamba, sowat 150 km noord van Polokwane, Limpopo.
Toe GroundUp oor presies dieselfde beleid by ’n skool in Mamelodi berig het, het die Gautengse onderwysdepartement onmiddellik ’n ondersoek van stapel gestuur, met die standpunt dat dit nie in lyn is met die Nasionale Beleid vir die Voorkoming en Bestuur van Leerderswangerskap in Skole nie.
Die Mamelodi-skool het gou sy swangerskapbeleid geskrap omdat dit diskriminerend is.
Maar die departement van Limpopo blyk ongesteld te wees deur so ’n beleid, selfs ondersteunend daarvan.
Ouers met wie GroundUp gepraat het, is baie ontevrede daarmee. By Tshiitwa is daar ongeveer agt swanger leerders wat daagliks vergesel word deur hul ouers of ’n volwassene wat hulle aangestel het. Hulle sit deur die dag op stoele buite die hoofhek. Sommige het lekkers begin verkoop.
“Ek verdien R600 per maand en betaal R800 vir die dame wat my swanger kind skool toe vergesel,” het ’n ma gesê wat nie genoem wil word nie. Sy gebruik haar kind se toelae om vir die diens te help betaal.
’n Ander ma het gesê sy is bekommerd dat haar huis gevandaliseer gaan word omdat sy heeldag by die skool is.
Mike Maringa, woordvoerder van die departement van Limpopo, het gesê: “As die ouers wil hê die leerder moet by die skool wees, moet hulle ook die verantwoordelikheid dra, want sou enigiets met die leerder gebeur, sal die skool aanspreeklik gehou word, en die departement het geen gekwalifiseerde mense om leerders in so ’n toestand te versorg. Dit kan nie die departement se probleem wees oor hoe ’n gesin die aanstelling van iemand wat na die swanger leerder kyk, hanteer nie. Ons maak nie voorsiening daarvoor nie.”
Elijah Mhlanga, woordvoerder van die nasionale departement, het gesê: “Die belang van die departement is dat ondersteuning aan die leerder gegee moet word en dat geen leerder teruggewys moet word huis toe weens hul swangerskap nie.”
Mhlanga het gevra of die saak tussen ouers en die skoolbeheerraad (SBL) ooreengekom is.
Joseph Munyai, voorsitter van die SBL, het die beleid bevestig. Ons het vasgestel dat daar ’n vergadering was, maar nie alle ouers het saamgestem nie.
Pila-sande Mkuzo, prokureur by Equal Education Law Centre, sê: “Die huidige beleid by Tshiitwa ondermyn verskeie van die leerder se fundamentele regte wat die reg op waardigheid insluit.”
Volgens die regsentrum is die beleid nie in ooreenstemming met nasionale beleid of twee afdelings van die Suid-Afrikaanse Handves van Regte nie.