Vyf jaar gelede is 189 miljoen manlike kondome en 7,3 miljoen vroulike kondome in Gauteng versprei, maar dit het drasties gedaal, met slegs 14,7 miljoen manlike kondome en 1,2 miljoen vroulike kondome wat van Januarie tot Maart vanjaar versprei is. Dit kom neer op ’n jaarlikse totaal van 58,8 miljoen manlike kondome en 5 miljoen vroulike kondome.
Hierdie inligting word onthul in ’n skriftelike antwoord deur die Gautengse LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, op Jack Bloom, DA-woordvoerder oor gesondheid, se vrae in die Wetgewer.
Volgens die LUR: “Die verskaffers van kondome (Contract RT75_condom) het nie voorraad gehad om aan die provinsie se aanvraag sedert Februarie te voldoen nie, aangesien verskaffers gewag het op SABS-goedkeuring voordat ’n grootmaat voorraad van die vervaardigers bestel word.”
Die tekorte word in al vyf gesondheidsdistrikte in Gauteng ervaar.
Nkomo-Ralehoko sê die kondoomtekort lei tot ’n toename in seksueel oordraagbare siektes (SOI’s). Dit sluit manlike uretritis-sindroom in wat van 5 486 in Februarie 2022 tot 6 035 in Februarie vanjaar toegeneem het.
Sedert die hoogtepunt van kondoomverspreiding in 2017/18 was daar ’n afwaartse neiging in die aantal kondome wat versprei is. In 2021/22 is slegs 129 miljoen manlike kondome en 5,2 miljoen vroulike kondome versprei – ’n afname van 45%.
“Dit is skandelik dat ’n algemene item soos kondome ’n tekort in Gauteng is. Hulle het ’n belangrike rol om te speel in gesinsbeplanning sowel as die voorkoming van MIV/Vigs en ander SOI’s,” meen Bloom.
“Ons moet die basiese beginsels regkry in gesondheidsorg in Gauteng. Dit sluit behoorlike kontrakbestuur in sodat betroubare en kostedoeltreffende verskaffers altyd gekies word, eerder as maatskappye wat nie lewer nie.”