Deur Kerkbode
In ’n sinodale streek waar die Belydenis van Belhar reeds “diep gewortel is”, het afgevaardigdes by die Sinode van Wes-Kaapland gestoei met kerkordelike en wetlike beperkings vir die verruiming van die bestaande belydenisgrondslag (Formuliere van Eenheid).
“Ons kan die res van die dag praat oor die meriete van Belhar en ons gaan bly saamstem daaroor,” het ds Marinus Theron, die moderator, in ’n stadium tydens die anderhalfuurlange bespreking gesê in ’n poging om daarop te wys dat die gesprek nie gaan oor die woorde in die belydenisskrif nie, maar oor die ingewikkelde kerkregtelike gang daarvan.
Die aktuarius, ds Charl Stander, het die aanloop tot bespreking van ’n mosie geraam deur ’n twaalfbladverslag deur te lees. Daarna het Theron gesprek vir deelname van die vloer oopgestel.
Die mosie wat uiteindelik ingestem is, kies ’n proses om die kerkorde te probeer verander en speel die bal na die Algemene Sinode, wat in Oktober ontmoet. Die voorgestelde verandering gaan oor artikel 44 van die Kerkorde, wat sommige, soos ds Marietjie Steyn van Groote Kerk, meen dit onmoontlik maak om te reformeer. Steyn en ander wou sien dat hierdie sinode ’n ander opsie (artikel 35) volg wat volgens die aktuarius “regsonseker” is. Ds Riaan de Villiers van die Groote Kerk en ander het die dringendheid in konteks gestel: “Ons het hier ’n belydenisskrif … ’n gedekoloniseerde belydenis, ’n geleentheid om te sê ons is ’n kerk in Afrika, ons erken die foute van die verlede … Ons wil ’n nuwe pad stap. As ons artikel 44 gaan aktiveer … dit is prosesse wat hoeveel jaar gaan vat … 50, 100, ek weet nie. Op die oomblik gee art 35 vir ons ruimte om dit te doen …