Die departement van gesondheid het vanoggend bevestig dat die dodetal van mense wat aan Cholera oorlede is tot 22 mense gestyg het, terwyl 29 gevalle deur laboratoriums bevestig is. 21 sterftes is in Hammanskraal aangemeld en een sterfgeval in die Vrystaat.
Dit kom terwyl die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, werk aan die dringende voorsiening van water aan laer- en hoërskole in Hammanskraal in Tshwane ná die ontdekking van Cholera-gevalle in die gebied.
“Die Gautengse departement van onderwys (GDO) begin met ’n dringende waterleweringsplan by 61 skole in Hammanskraal, wat toegang tot skoon en drinkbare water vir leerders en personeel sal bied,” het LUR Chiloane in ’n verklaring gesê.
Onderrig en leer is sedert die ontdekking van Cholera in die gebied nie geraak nie, omdat skole by die voorsiening van water deur die munisipaliteit baat gevind het. Daar was egter watertekorte aangesien skole met die gemeenskap gedeel het. Die departement het intussen besluit om skole in die geaffekteerde gebiede dienooreenkomstig van water te voorsien.
“Ongelukkig is dit jammer dat ’n 3-jarige kind verlede week in die hospitaal oorlede is terwyl hy mediese behandeling ontvang het, nadat hy na bewering simptome van Cholera getoon het. Twee ander kinders is ook in die hospitaal opgeneem omdat hulle soortgelyke simptome getoon het, maar is gister op Woensdag, 24 Mei 2023, ontslaan,” het LUR Chiloane bevestig.
Die departement sal voortgaan om water aan alle geaffekteerde skole te verskaf en die Gautengse departement van gesondheid by te staan met voorkomingsmaatreëls rakende Cholera.
“Ons is geskok oor die heengaan van ’n jong persoon wat vermoedelik Cholera opgedoen het. Ons betuig graag ons innige meegevoel met die familie en gemeenskap as geheel. Die departement het ’n dringende waterleweringsplan ontwikkel wat by sowat 61 skole aan die gang is en hierdie plan sal voortduur totdat daar ’n blywende oplossing in plek is,” het LUR Chiloane gesê.