300 inwoners van plakkershutte in Oos-Londen sê hulle sal nie trek tensy dit iewers is met water, elektrisiteit en toilette nie. Hulle woon nou glo op ground wat vir ’n skool bedoel is en gebruik onwettige kragverbindings. ’n EFF-raadslid sê egter dit is hul grondwetlike reg om ander grond deur die departement te kry.
Deur Nombulelo Damba-Hendrik (GroundUp)
- Sowat 300 gesinne het hutte gebou op grond wat bedoel is vir ’n skool in Nompumelelo, Oos-Londen.
- Hulle sê hulle wil ook die skool hê en hulle sal trek as hulle staanplekke met water, elektrisiteit en toilette kry.
- Die wyksraadslid sê daar is nie grond beskikbaar nie en die besetters het voor hulle daarheen getrek het geweet die perseel is vir ’n skool bedoel.
- Dit is nou al meer as tien jaar die situasie.
Sowat 300 gesinne in Nompumelelo, Oos-Londen, het hutte gebou en beset op grond wat vir die nuwe Floradale Intermediêre Skool bedoel is.
Die huidige skool, die enigste laerskool in Nompumelelo, het meer as 1 260 leerders van graad R tot graad 7. Hulle word in tydelike klaskamers, in ’n ou gebou en ’n skeepsvraghouer onderrig.
Angelina Besti, lid van die skoolbeheerliggaam (SBL), sê die klaskamers is oorvol en sommige leerders het nie eens lessenaars nie.
Malibongwe Mtima, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van onderwys, sê die departement sukkel al sedert 2011 om sy grond terug te kry, en die Buffalo City Metro-munisipaliteit moet verantwoordelikheid neem om die families te hervestig.
In 2010 was daar minder as 50 plakkershutte.
Die besetters sê hulle sal net vertrek as hulle na persele met geriewe verskuif word.
“Dit is ’n baie frustrerende situasie,” het Besti gesê. “Ons vra al vir jare die departement om vir ons ’n groter skool te bou … Dit is die derde keer dat die departement aanbied om die skool te bou en ons word meegedeel dat as die mense nie skuif nie, die skool na Beacon Bay geskuif sal word. Daardie plek is baie ver weg.”
Verlede week het die grondbesetters betoog en geëis dat wyk 15-raadslid Nwabisa Mcwabeni (ANC) alternatiewe grond vir hulle moet vind met water, toilette en elektrisiteit. Tans deel die gesinne 12 toilette en maak hulle staat op onwettige aansluitings vir elektrisiteit.
Gemeenskapsleier, Thembisa Sotashe, het gesê sy woon sedert 2014 in die informele nedersetting. Sy het ’n bestaande hut op die grond gekoop.
“Ek was bewus daarvan dat die departement planne gehad het om die skool op hierdie grond te bou,” het sy gesê. “Een ding wat duidelik moet wees, is dat ons almal die skool wil hê. Ons het kinders wat in Floradale studeer. As die skool geskuif word, gaan ons almal swaarkry. Dit is hoekom ons ons wyksraadslid gevra het om met Buffalo City-munisipaliteit te praat sodat hulle vir ons ander grond kan kry.”
“In plaas daarvan om te help, dreig hy om wetstoepassers te stuur om ons uit te sit,” het sy gesê.
“Ons sal trek en die departement sal sy grond terugkry solank ons na ’n plek geneem word waar daar water, toilette en elektrisiteit is,” het sy gesê.
Maar Mcwabeni het gesê die kwessie kom voor sy termyn as raadslid en vorige posbekleërs het nie daarin geslaag om dit op te los nie.
“Ek het vir die mense gesê om terug te gaan na agterplase, maar hulle weier en eis om na ‘gedienste grond’ geskuif te word. Die hartseer waarheid is dat daar geen grond vir hulle is om verskuif te word nie.”
“Die besetters word gelei deur ’n EFF-raadslid wat aanhou om vir hulle te sê dat dit hul grondwetlike reg is dat ons die mense ander grond kry,” het hy gesê. “Solank as wat ons dit nie ontken nie, het daardie mense het daarheen getrek met die wete dat dit die grond van die Oos-Kaapse departement van onderwys is en nie die munisipaliteit s’n nie.”
Songezo Nkungwini, EFF-raadslid, het gesê: “Hulle het vir hom [Mcwabeni] gestem, nie ek nie; dis hy wat ’n plek vir die mense moet kry.”
Mtima het gesê die departement is gereed om met die bou van die skool te begin, maar dit wag vir die munisipaliteit om die gesinne te hervestig.
Munisipaliteit se woordvoerders Bathandwa Diamond en Samkelo Ngwenya het nie op GroundUp se vrae geantwoord nie.