Die Gautengse departement van gesondheid sê die aantal mense wat hul lewens verloor het ná ’n Cholera-uitbraak in Hammanskraal, noord van Pretoria, staan nou op 17.
Op 23 Mei 2023 het die provinsiale departement gesê 165 pasiënte is by die Jubilee-distrikshospitaal behandel, insluitend 18 wat na ander gesondheidsfasiliteite in Tshwane oorgeplaas is.
Volgens die jongste opdatering staan die aantal laboratorium-bevestigde gevalle van Cholera op 29, terwyl 67 pasiënte tans vir gastroïntestinale infeksie gehospitaliseer is.
“Die departement gaan voort om mense te versoek om behoorlike handhigiëne te verseker, wat deeglike was van hande met water en seep of ’n alkoholgebaseerde ontsmettingsmiddel insluit, voordat voedsel hanteer word en nadat hulle die toilet gebruik het,” het die departement van gesondheid gesê.
Dit doen ook ’n beroep op die publiek om by hul naaste gesondheidsfasiliteite aan te meld wanneer hulle simptome soos diarree, naarheid, braking, maagkrampe en dehidrasie ervaar, sodat hulle mediese behandeling kan ontvang.
“Ons herhaal verder die oproep aan die publiek om die verbruik van bekende of vermoedelik besmette voedsel en water te vermy.”
AfriNUUS het Dinsdag berig Gauteng en die Vrystaat is die swaarste getref, terwyl nog ’n geval van Cholera in ’n ander provinsie opgespoor is wat nog bevestig moet word.
Suid-Afrika het sy eerste Cholera-sterfte in Februarie aangemeld, nadat die virussiekte vanaf Malawi in die land binnegekom het.
UPDATE-ON-CHOLERA-CASES-IN-HAMMANSKRAAL-AS-AT-23-MAY-2023LEES OOK: